2023 Ghongskiet lok skuts

Mar 27, 2024 | Articles

GEWILDE WILDMAN GHONGSKIET LOK SKUTS
Marina van der Westhuizen
Op Saterdag, 18 November, het Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) die laaste
ghongskietdag van die jaar aangebied op De Rust. Die gasvrye Henry en Martie van der
Westhuizen het weereens die plaashek van Aangenaam oopgemaak om almal hartlik te
verwelkom. Marko Marais van Wildman George het ook aangesluit om die skuts te
ondersteun. ‘n Totaal van 120 deelnemers het ingeskryf en het in spanne van vier geskiet.
Baanoffisiere het al Donderdag die Karoo-son aangedurf om bane op te stel. Ses bane is
opgestel en die skietvernuf is behoorlik getoets met wisselende ghongafstande tussen 192m
en 390m. Skuts was tydgebonde en moes tref uit verskeie skietposisies. Dit het behoorlik
hulle vaardighede op die proef gestel en ook gewys watter skut die beste vertroud is met
sy/haar geweer.
Dit was ‘n warm dag, maar nie die stof of die sweet kon die opwinding of die entoesiasme
demp nie. Streng veiligheid is by al die bane toegepas. Kommentaar is gelewer oor ‘n
skietraam wat amper soos ‘n Kersboom gelyk het, maar sonder versierings. Alhoewel dit ‘n
baie mededingende kompetisie is, het alles in ‘n goeie gees afgeloop.
Die wenspanne is vereer met medaljes, sertifikate en koopbewyse. Die afwagting was groot
vir die gelukkige trekking wat selfs ‘n meevallertjie vir diè kon beteken wat nie die beste op die
baan gevaar het nie.
Die wenspanne vir die dag was:
1. Die Mafia (Johan Fourie, Niaan Fourie, Christo Delport, Hein de Swardt)
2. Hou ons dop (Martiens Bekker, Hugo Moolman, Andrè Barnard, Renier van Greunen)
3. Team AHS (Raynor Becker, Johan Delport, Danie Barnard, Deon van Tonder)
Hierdie dag was ‘n reuse sukses en die harde werk agter die skerms en opofferinge is nie mis
gekyk nie. SJB bedank almal wat ingespring het om te kom help. Hulle nooi enige
belangstellendes uit om die kantoor te kontak by 044 695 2319 of die webwerf te besoek by
www.suidkaapjagters.co.za vir navrae van die dag of om uit te vind wat word als beplan vir
2024.