Vleisverwerkingsdag 25 Mei 2024

May 28, 2024 | Articles

Op Saterdag, 25 Mei het SJB, in samewerking met Hartmans Slagtery, ‘n suksesvolle vleisverwerkingsdag aangebied. Almal wat die dag bygewoon het was gulhartig ontvang deur die personeel van Hartmans Slagtery en Andries Hartman het die dag op gepaste wyse geopen.

Onder leiding van Dave en sy span is die groep deur die indrukwekkende fasiliteite van Hartmans in Fabriekstraat, George geneem. Daarna het Paul die verdeling van ‘n karkas gedemonstreer. Elke snit is verduidelik en hy het saam met GR Spice & Deli Spice die presiese metode van die maal en spesery van vleis verduidelik. Elkeen kon ook die geleentheid gebruik om prakties wors te stop. Daar was geleentheid om vrae te vra terwyl daar sommer ook vars boerewors gebraai was waaraan almal kon smul.

Een van die hoogtepunte was die verskeidenheid disse wat voorgesit was en almal se palette kon op die proef gestel word om die verskillende soorte wild te probeer indentifiseer. Die disse was keurig voorgesit, van die mooiste volstruisburgers, springbok carpaccio, koedoe bobotie en koedoe pastei. Die disse was uitsonderlik lekker en het elke fynproewer se verwagtinge oortref.

Deli Spice en GR Spice het die groep baie bederf met die mooiste geskenkpakke met ‘n groot verskeidenheid van hulle heerlikste speserye, ontbeningsmesse en ander bederf-items.

Dit was voorwaar ‘n fees van ‘n dag en Hartmans Slagtery en sy personeel word opreg bedank vir al die moeite en tyd wat hulle ingesit het om die dag ‘n sukses te maak.