
FERMI MEYER (BESTUURDER: JUNIOR OPLEIDING)
SEL: 072 444 8236
E-POS: fermi.meyer@gea.com
Veldskool 20-22 Maart 2020
Stel jy belang in ‘n onvergeetlike veldervaring wat jou vir die res van jou lewe kan bybly?
Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging se veldskool vir laerskool leerders vind plaas by Suid-Kaap Jagters se opleidingsfasiliteite naby Kleinbrakrivier.
Verantwoordelike mentors met ‘n magdom kennis van die natuur, word aangewend in die aanbieding van noodsaaklike natuurverwante aktiwiteite om jou te help om o.a. maklik voor te berei om op die regte manier te gaan kamp, jou rugsak vir die veld te pak, om die flora en fauna van ons natuurerfenis beter te leer ken en hoe om ‘n veilige kampvuur te maak. Ander aktiwiteite wat ook prakies aangebied word, is: die korrekte manier en plek om jou tent op te slaan, spoorsny vir oorlewing, oogskerping, nagbeweging, veldhigiëne, kamoeflering, kos kook op ‘n oop vuur, broodbak in die veld, basiese eerstehulp, bestuiwing en vele meer. Spanwerk, kommunikasievaardighede en leierskapsontwikkeling is enkele aktiwiteite wat deurlopend aandag geniet.
Aardverhitting, waterbesoedeling en natuurbewaring is op almal se lippe, maar weinig word gedoen om hierdie uiters noodsaaklike knelpunte aan te spreek. Die doel van die naweekkamp is juis om by jou ‘n belangstelling en liefde vir die natuur te kweek en hoe om dit op ‘n verantwoordelike manier volhoubaar te benut en te geniet, asook om jou te leer om tydens noodsituasies in die veld te kan oorleef. Kom leer speel-speel hoe jy kan bydra tot die redding van ons wonderlike planeet.
Indien jy 10 jaar en ouer en in die laerskool is (en nog nie van tevore ‘n veldskool bygewoon het nie), moet jy seker maak dat jy hierdie unieke geleentheid nie misloop nie. Slegs die eerste 25 leerders wie se ouers my skakel, word aanvaar.
Veldskoolgroete
Oom Fermi
