Suid-Kaap Jagters- en bewaringsvereniging het die afgelope Saterdag ‘n suksesvolle handwapenskiet aangebied by die Wouter de Vos skietbaan te Kleinbrakrivier.
Daar was vier verskillende bane opgestel wat die 66 deelnemers se skietvernuf, akkuraatheid en snelvuurvaardigheid getoets het. By elke baan was daar ‘n verrassings-element ingebou wat onder meer ingesluit het: staalplate, ‘n swaai teiken, ‘n “hopper” en ‘n toevou-teiken.
Van die uitdagings was om die bewegende teiken te skiet voordat dit tot stillstand gekom het en om die baan in die kortste moontlike tyd te voltooi.
‘n Verdere verrassing vir die skuts was die aanloklike pryse wat geborg was deur SSK. Die uitdagings wat só ‘n skietdag bied, met die moontlikheid van ‘n prys in die agterkop, dien as motivering vir skuts om lang afstande te reis om te kan deelneem. Dit is nie moontlik sonder die gewaardeerde ondersteuning nie.
Die wenners van die dag was as volg : André Calitz (goud), Danette Stoop (silwer) en AJ Calitz (brons) – dié jong skut (18 jaar oud) is voorwaar ‘n inspirasie vir oud en jonk!
As voorloper vir Moedersdag was daar ook toekennings aan die top vroue-deelnemers gemaak – die wenner was Danette Stoop, met Renette du Plessis tweede en Elmarie Grobler derde.
Na afloop van die skietkompetisie het die deelnemers gesellig saam gekuier by die klubhuis. SJB se voorsitter (Wynand Fourie) en bestuurslid Riaan van der Westhuizen het gesorg vir ‘n heerlike potjiekos-ete.
Hiermee bedank SJB al die baanoffisiere, deelnemers en veral diegene wat gehelp het met die opstel van die bane. Ons maak binnekort weer so!





