Die afgelope naweek was die skietbane by Wouter de Vos, net buite Klein Brakrivier, weer stampvol tydens die eerste baanskiet van die jaar. Die manne en vroue met die groot kalibers het nader gestaan en hulle staal kom wys tydens die jaggeweerkompetisie van die Suid-Kaap Jagters- en bewaringsvereniging. Baanoffisiere het verseker dat die kompetisie seepglad verloop en veiligheid was aan die orde van die dag. Daar was 38 skuts wat deelgeneem het. Teikens is op die gebruiklike 35,100 en 200meter afstande opgestel en 5 skote per teiken is toegestaan. Vir kwesskote was punte afgetrek. Die laaste uitdaging was beslis op ‘n 200meter gongskiet.

Anke Kemp wenner van die dag
UITSLAE
‘n Verrassing het op die manne gewag toe Anke Kemp as wenner aangewys is. Sy het al haar teikens getref en het met volpunte weggestap. Die naaswenners was onderskeidelik Femi Meyer en Marius Swanepoel. Die volgende plaaslike baanskiet vir jaggewere sal plaasvind op 18 Maart.
Februarie is ‘n maand stampvol aktiwiteite. CHASA-, Sportskiet en herlaaikursusse sal aangebied word deur gesoute skuts en almal sal kan baat vind wanneer hulle kennis deel. ‘n Familiedag is ook op die kalender wanneer die hele gesin kan kom deelneem om ‘n bosbokkas te bou op 11 Februarie. SJB nooi bestaande en nuwe lede uit na hierdie aktiwiteite. Kontak die kantoor by 044-6952319 vir enige navrae.