Wildman George - Ghong Uitdaging 2020


Jongste span van die dag

Wen Span

Op Saterdag 21 November is ‘n suksesvolle ghonguitdaging aangebied deur Suid-Kaap Jagters in samewerking met Wildman Hunting & Outdoor in George.

Die toestande vir skiet was beslis uiters uitdagend en skuts wat deelgeneem het aan die ghong-uitdaging moes die volle aanslag van die natuur trotseer met die kwik wat by die 35°C gaan draai het.

Ironies is die feit dat die dag aangebied is op die plaas Aangenaam van Henry en Martie v/d Westhuizen net buite De Rust. Aangenaam verras ja, want die kompetisie het bestaan uit ses bane van vyf ghongs per baan, op verskillende afstande en natuurlik uit verskillende skietposisies.

Met die inperking van die COVID-19 pandemie was die manne, dames en selfs ‘n kinderspan, uitgehonger vir skiet.

Die kinderspannetjie is verras deurdat hul elkeen ‘n kontantprys gekry het wat deur ‘n skut geskenk is om as aanmoediging vir die jongspan te dien.

Die spanne wat as wenners uit die stryd getree het is as volg:

1ste – Team “AHS”:                 Raynor Becker, Johan Delport, Tommy Dixon en Deon van Tonder

2de – 3 Jacks and a Jill:           Johan Fourie, Niaan Fourie, Junita van Zyl en Willie van Zyl

3de – Christo se span:             Christo Delport, Hein de Swardt, Hugo Moolman en Ruan Moolman

Spanwerk en ondersteuning was die resep vir hierdie suksesvolle dag. Die groot hoeveelheid gelukkige trekkings vir individuele skuts en so ook die gelukkige trekking vir die spanne, het die meeste skuts se verwagtinge oortref. ’n Nuwe toetreeder tot die skietsport in die Suid-Kaap is RAiN Geoktrooieerde Rekenmeesters van Mosselbaai, en hulle het die aankoop van ekstra pryse moontlik gemaak met die belofte van nog bydraes in die toekoms.  Ons is vol verwagting dat die grondslag gelê is vir die skietdae om van krag tot krag te groei met borge soos hierdie aan boord.

Groot dank en waardering aan ons hoofborg van die dag, naamlik Tienie Hattingh van Wildman  Hunting & Outdoor.  Ook ‘n woord van dank aan Kobie Human van RAin Geoktrooieerde Rekenmeesters, die skuts wat ingeskryf het en baanoffisiere wat die hitte moes trotseer.  ‘n Spesiale dankie aan die Henry en Martie vir hul groot bydrae en gasvryheid wat beslis ten gevolg het dat die inskrywings vir hierdie skietdag jaarliks groei.

Die Bestuur van Suid-Kaap Jagters wens almal ‘n Geseënde Kersfees en Voorspoedige nuwe jaar toe.

Ghong Uitdaging Uitslae PDF

Ghong Uitdaging Uitslae XLSX

Thu, 26 Nov 2020